Home | Prose | Poetry | Satire | Diaries | e-Bites | Recollections | Trip Reports | The Rest

Back to pautz.net
pautz
Back to MAlfaRK
malfark
The Writers
writers
Links to Creative Writing Sites
links
Source of Inspiration for This Page
idea!
Email the MAlfaRK
e-mail

Prose

Boereraat Teen Die Bomme

  posted by Koos Kombuis, Monday, October 8, 2001

Eienaardig hoe 'n mens altyd kan onthou presies waar jy was en waarmee jy besig was toe jy die eerste keer groot of ontstellende nuus gehoor het. Ek kan onthou waar ek was die oggend toe ek hoor van prinses Di se dood (in 'n gastehuis in Lambertsbaai, besig om die kar se kattebak te laai). Ek kan verder terug onthou waar ek was toe John Lennon geskiet is (druk besig met vertaalwerk in Landbou Weekblad se kantoor). Op die middag van die elfde September 2001 was ek in 'n apteek, besig om kondome te probeer koop sonder geld (ek het pas ontdek ek het my beursie by die huis vergeet) toe Amerika deur 'n spul mal Arabiere vernietig word. Die kondome is toe nooit gekoop nie. En die w�reld sal nooit weer dieselfde wees nie.

Is ek hartseer? Nee, stomgeslaan. Het ek van Amerika gehou? Nee. Ek het veral nie van president Bush gehou nie. Maar dis nie die punt nie. 'n Mens het die aaklige gevoel dat hierdie die tip van die ysberg is, die begin van iets groters en meer onheilspellends. In rugby is die ou wat op die ou end deur die skeidsregter afgejaag word vir vuil spel, feitlik altyd die ou wat teruggeslaan het. Die eintlike fight is gewoonlik deur iemand anders begin.

Dis eers wanneer die tweede en derde houe val dat mense dit agterkom. Stel jou nou iets nog erger voor: 'n rugbygame sonder skeidsregter. 'n Rugbygame waar spelers op die ou end heeltemal vergeet van die reëls en mekaar begin bliksem. Stel jou voor die skare begin meedoen. Wat het jy dan?

Sokker, natuurlik.

En as so iets op 'n wêreldskaal gebeur? In politiek? Dan het jy Wêreldoorlog Nommer Drie. En dié keer sal Amerika dalk nie lank genoeg daar wees om ná die tyd movies daaroor te maak nie. Miskien is al die gevolge van die elfde September nie dadelik sigbaar nie. Miskien smeul die vyandigheid nog lank onder die oppervlak. Miskien lyk dit op die oog af asof die Westerse w�reld vinnig herstel van die skok en die onsekerheid. Miskien stort die finansi�le markte nie in duie soos almal verwag nie.

Maar reperkussies sal daar wees, nou of later. En party van hierdie reperkussies kan bitterlik ernstig wees. Stel jou voor president Bush begin weer drink, byvoorbeeld. Stel jou voor hy druk die verkeerde knoppie in sy dronkenskap en stuur 'n atoombom na, sê maar, Irak. Sê maar Irak het reeds missiele van sy eie. Maar hulle kan nie mooi mik nie, en pleks van Amerika tref hulle Frankryk. Of Australië. Of ons.

Die enigste mense op die hele aardbol wat salig onbewus sal wees van die krisis (tensy 'n bom hulle tref), sal natuurlik die dosyn of minder mense wees wat nog oor sal wees in Big Brother se huis. Mens wens half jy kan liewer daar wees. Om, soos hulle, nog in die vorige eeu te lewe...Want is dit nie 'n feit dat die een-en-twintigste eeu nou eers regtig begin het nie? En dat dit nie vir almal 'n eeu van maanskyn en rose gaan wees nie? Hulle sê hoeka die negentiende eeu was eers werklik verby toe die Titanic gesink het. Die gees van optimisme en tegnologiese vooruitgang wat die era van die Edwardiaanse Dinastie gekenmerk het, is daardie nag gekelder in die ysige water van die wrede see.

Net so het die hele wêreld, ná die gebeure van die elfde September, finaal 'n deel van sy onskuld verloor. Die toekoms is nou op ons, met al sy onsekerheid, sy waansin, sy klein oorloggies en sy wreedheid. Om nie van dinge soos oorbevolking, besoedeling en onvoorspelbare weerpatrone te praat nie. Ons pogings om met hierdie monsters af te reken, kan op die ou end selfs meer skade doen as die monsters self.

My grootste vrees is dat ons as spesies ons sin vir humor gaan verloor. Dit mag eenvoudig nie gebeur nie. Die aand van die elfde September het ek, toe ek die vreesaanjaende nuusberigte op CNN en die BBC nie langer kon verduur nie, oorgeskakel na M-Net. Tot my opperste blydskap was die Casper Rasper Show toe juis aan die gang. Ek het vir myself 'n glas rooi wyn geskink, teruggesit en gelag. En ek het geweet daar is nog hoop vir die mensdom. Al val Babilon permanent, al skiet mense mekaar flenters, al kry ons nooit 'n manier om verby Jonah Lomu te kom nie, al verrys die trippel-ses op die horison met al sy haat en omgekeerde Bybelversies en woede, al verbrand Tony Blair al die skape en koeie op die hele planeet, sal dit eers die einde wees wanneer die laaste komediant en grapmaker voor die laaste vuurpeloton sterf, wanneer die laaste grinnik wegsterf, wanneer daar niemand oor is om grappe te vertel nie.

Saddam Hussein beter oppas. Want ons het nog baie Caspers.

  Previously published and reproduced with the kind permission of Koos Kombuis.





All credit to the Creative Writing Collective for the design concept and inspiration!